Hulle moet met min geld, vroeë tuiskomtye en kort tydjies voor die TV, PlayStation en rekenaar begin. Dan moet hulle stap vir stap geleer word hoe om toenemend verantwoordelik met hulle tyd en geld te wees. Die tou moet net skiet gegee word wanneer hulle hulleself betroubaar en verantwoordelik bewys het. Hulle sakgeld en uitblytye moet dus nie volgens hulle ouderdom bepaal word nie. Bepaal dit eerder volgens hulle volwassenheid en verantwoordelikheidsin.
Palmboompies is mooiweersmaatjies. Hulle bedoel dit nie lelik nie. Hierdie eienskap word leliker hoe ouer ’n palmboompie word en loop ongelukkig uiteindelik uit op ’n probleem om langtermynverhoudings soos ’n huweliksband te behou. Hulle moet dus daarop gewys word dat ander mense baie seergemaak voel wanneer die palmboompie hulle soos ’n warm patat los.
Dit is uit die aard van die saak geweldig moeilik as pret jou lewensleuse is! Ons moet vir palmboompies gereedskap gee om hulleself eendag te kan dissiplineer om die verveling te oorwin met deursettingsvermoë. Terwyl palmboompies klein is, moet ons hulle leer om take in speletjies te verander en hulle aandag elders te fokus terwyl hulle handjies die werk doen. Palmboompies kan ook leer om vir hulleself ’n wortel voor die neus te hou.
Palmboompies is doodtevrede met lang monoloë, mits daar entoesiastiese luisteraars om hulle versamel staan. Hulle geniet hulle eie stemme en glo dat ander dit ook geniet. Hulle maak dus nie goeie luisteraars nie. Hulle gedagtes is gedurig aan die gang terwyl ander praat; daarom val hulle ook graag ander mense in die rede. Hulle glo in hulle eie idees en wil seker maak dit word goed oorgedra. Hulle kom egter baie selfgesentreerd voor as hulle nooit leer om vir ander dieselfde geleenthede te gee nie. Hulle moet sensitief gemaak word vir die doodgeprate persoon se gevoelens.
Palmbome kan almal om hulle pinkie draai sodat hulle niks wat sleg is self hoef te doen nie. Die palmboompies subkontrakteer graag ander om hulle verantwoordelikhede oor te neem en hulle probleme op te los. Dit kan egter ’n integriteitskwessie word as ons hulle nie leer dat hulle soms nie hulle charisma mag gebruik nie, maar self verantwoordelikheid moet neem.
Palmboompies trippel en kerm langs ons wanneer ons oor die foon praat. Dis altyd hulle beurt. Spyt kom te laat wanneer hulle halsoorkopgeaardheid kort-kort deurslaan. Ons wens hulle wil dink voor hulle doen, en dit is presies wat ons hulle moet leer! Skep met opset geleenthede waar jou palmboompie
moet wag. Speel van vroeg af gereeld beurtspeletjies met palmboompies en so gou moontlik bord- of kaartspeletjies met vaste beurte. Enige vorm van oordaad dra by tot swak impulsbeheer omdat kinders wat nie soms deur hulle ouers plesier en presente ontsê is nie, dit beslis nie self sal leer doen nie! Modelleer vir hulle hoe om nie dadelik te reageer voordat ’n mens gedink het nie. Moenie toelaat dat hulle impulsiwiteit jou in ’n hoek druk nie. Wanneer ’n palmboompie instorm is dit moeilik om die wegholtrein te stop, maar ons moet dit doen.
Ons almal het al gehoor hoe ’n palmboompie ’n stil, ernstige atmosfeer verwoes. Hulle haat erns. Erns is egter ’n komponent van respek en moet maar op die een of ander tyd aangeleer word, of hulle nou wil of nie. Die invalshoek moet weer eens wees om ons palmboompie op die gevoelens en behoeftes van ander mense te wys.
Palmboompies word met grade in die regte gebore en kan oortuigende argumente oor elke ding voer. Hulle gebruik hierdie gawe om skuld te ontken. Argumente is welkom in sekere situasies, maar daar is ’n tyd om van palmboompies te verwag om ruiterlik te erken wat hulle aangevang het en ook om om verskoning te vra wanneer dit iemand anders benadeel het. Ons moet dit vir hulle die moeite werd maak om die waarheid te vertel, en dit baie onaangenaam maak wanneer hulle jok.
Wanneer ons ’n kind verkeerd benader, kan ons dit amper onmoontlik vir hulle maak om vir ons die waarheid te vertel. Verduidelik die voordeel van eerlikheid en die nadeel van ’n leuen.
Palmboompies is saamdoeners en daarom die grootste slagoffers van groepsdruk. Hulle doen alles wat hulle gewildheid kan bevorder. Ons moet dus deur oefening ons palmboompies se radars fyner instel. Hulle moet leer om meer krities of minstens dieper na maats te kyk. Dis vir hulle baie sleg en moeilik omdat hulle gewoonlik met almal klaarkom. Hulle moet leer om verby die uiterlike te kyk. Ons moet hulle baie blootstelling gee aan ouer palmbome met integriteit sodat hulle kan sien dat ’n mens gelyktydig opwindend én ordentlik kan wees!
Hierdie outjies moet van jongs af takies hê wat hulle daagliks moet uitvoer voordat enige “lekker” dinge mag gebeur. Gee vir die palmboompies van jongs af hanteerbare takies wat hulle goed oor hulleself kan laat voel en waaroor hulle terugvoering kan kry. Kies die takies wat nie te vervelig is nie sodat die weerstand nie te groot is nie. Wees geduldig wanneer hulle, hulle takies vergeet. Maak vir hulle visuele leidrade wat hulle help om te onthou. Knoop werkies aan die daaglikse roetine. Gee vir elke kind ’n takie
vir opstaantyd, een vir etenstyd en een vir badtyd. Die gereeldheid van die roetine sal hulle help onthou en baie oefening gee sodat hulle (heelwat!) later die takies uit gewoonte sal doen.
Hierdie vermoë gaan nie vanself kom nie. Ons gaan vroeg-vroeg begin om duiwelsadvokaat te speel sodat ons kind kan leer om sy standpunte te verdedig. Palmboompies het ’n heldeverering vir hulle ouers totdat hulle op ’n dag besluit hulle maats is nou hulle helde en jy is dom en vervelig. Terwyl jy dus wonderlik en slim is, moet jy die eerste elementêre gesprekkies oor seks, dwelms, pornografie, drank, flieks, okkultiese rekenaarspeletjies en enige ander euwels met hulle voer. Daag jou palmboompie uit om sy invloed en oortuigingsvermoë positief aan te wend. Voer gereeld ’n “debat” oor waardes, reëls en belangrike lewenskeuses met jou ouer palmboomkind. Ons palmboompies het net ’n kans om hierdie versoekings te weerstaan as hulle regtig weerbaar gemaak is.
As ’n mens bedraad is om net in die oomblik te lewe is enige vooruitbeplanning pynlik, maar ons as volwassenes weet dat dit ’n broodnodige vaardigheid is. Ons palmboompie word bes moontlik ’n entrepreneur. As al die wonderlike idees tot uitvoering gaan kom, gaan dit wees omdat ons ons palmboompie geleer het om planne te maak vir die toekoms en tot by die verste horison te kyk.
Palmboompies se spyt kom te laat. Ons moet van jongs af seker maak dat ons palmboompies die gevolge van elke onsinnige keuse dra, as ons van plan is om hulle na volwassenheid te begelei. Hulle leer mos nie baie uit ’n gepraat nie, maar eerder deur te voel!
Ons palmboompies leer die beste:
Kyk nou die video : “Wat jou kind kan kelder”.
