Deel 5: Snoei- en besproeiingstegnieke vir roosbome

    • Verlies of vermeerdering van fisieke vryheid

    Roosboompies haat dit om aan bande gelê te word en blom wanneer hulle vryheid en opsies het. Ons kan dit baie effektief in hulle dissipline gebruik. Roosboompies wat heeltemal buite beheer raak, kan letterlik vasgehou word totdat hulle bedaar het, of ten minste in ’n beperkte ruimte geplaas word totdat hulle kalmeer.  ’n Woede-uitbarsting moet wanneer moontlik streng beperk word tot waar niks en niemand kan seerkry of te veel aandag kry nie. Roosboompies hou gewoonlik so min van fisieke beheer dat hulle gou ophou met gedrag wat herhaaldelik daarop uitloop dat hulle opgetel, weggedra, vasgehou of neergesit word. Omdat hulle graag onafhanklik wil wees, is dit vir hulle baie motiverend wanneer ons hulle toelaat om hulle groeiende selfstandigheid te bewys.

    • Verhoogde of verlaagde status

    Roosboompies wil groot en belangrik voel en so hanteer word. Hulle status in en buite die huis is vir hulle vreeslik belangrik. Hulle posisie in die gesin en hulle regte op grond daarvan – byvoorbeeld wakkerblytyd en die hoeveelheid sakgeld wat hulle kry – weeg swaar. Wanneer ’n roosboompie uitgedaag word tot meer volwasse gedrag, kan ons as beloning so ’n verhoging in status as wortel voor hulle neuse hou.

    • Verlies of vermeerdering van keuses

    Wanneer ons en ons roosboompie bots, is dit gewoonlik omdat hulle nie hou van die besluite wat ons neem nie en eerder self keuses wil maak. Ons kan hulle dus baie effektief motiveer deur hulle keuses te vermeerder wanneer hulle dit verdien. Wanneer roosboompies op ’n onaanvaarbare manier hulle wil probeer afdwing (manipuleer) moet hulle keuses verminder word. Gebruik die keuses wat jy sien vir jou kind belangrik is om dieselfde dinge te bereik.

    • ’n Pak slae

    Ek kan al hoor hoe die ouers van roosboompies protesteer:  Ons het ’n pak slae probeer – dit werk nie! Al wat dit beteken, is dat die roosboompies in hulle blufspel geslaag het. Ek is bereid om te wed dat jy ten minste een van die volgende reaksies op ’n pak slae van jou roosboompie gekry het:

    • Jou roosboompie het jou teruggeslaan.
    • Jou roosboompie het geskree. Dit was tog nie seer nie!”
    • Jou roosboompie het iets beledigends geskree.
    • Jou roosboompie het vernietiging gesaai in die plek waar jy die pak slae gegee het.
    • Jou roosboompie het rooi in die gesig geword, maar geweier om te huil

    of selfs uittartend geglimlag!

    • Jou roosboompie het so effektief gewriemel of weggehardloop dat jy

    besluit het ’n pak slae gaan op iets soos WWF-Rofstoei uitloop en dat jy nie

    daarvoor kans sien nie.

    • Jou roosboompie se gedrag het na elke pak slae erger geword in plaas van beter.
    • Jou roosboompie het die gedrag na neutrale grond verskuif

    Roosboompies probeer deur hierdie soort gedrag die situasie in ’n geveg met verskeie rondtes verander. Wanneer ons roosboompies straf – veral wanneer die straf ingrypend is, en hulle laat voel dat ons nou in beheer is – ’n gevoel wat hulle absoluut haat – wil hulle nie die saak as afgehandel aanvaar nie, want dan het jy “gewen”.  Hulle wil wen; daarom daag hulle jou uit tot nog ’n rondte. Die belangrikste ding om in ons eie koppe reg te kry as ons ’n roosboompie wil dissiplineer, is dat dit nie ’n kragmeting is nie. Ons mag dus nooit met ons roosboompie in die kryt klim nie.

    • Logiese gevolge

    Omdat roosboompies logies en rasioneel is, verwar dit hulle wanneer ons arbitrêre strawwe of belonings gee. Ons moet met hulle versigtig wees om strawwe en belonings sinvol te kies, anders kan ons verwag dat hulle ons dissipline as moedswillige of ondeurdagte aksies sal sien, en nie veel daaruit sal leer nie. Roosboompies reageer ook baie goed op strawwe wat hulle self uitgedink het. Ons kan hulle betrek by die maak van reëls en die vasstelling van strawwe vir die verbreking daarvan.

    • Kompetisies, uitdagings en rekords

    Om te wen of ten minste beter as iemand anders te vaar, is vir ’n roosboompie so belangrik dat ons dié dryfveer in dissipline moet gebruik.

    • Geld

    Roosboompies reageer goed op konkrete belonings soos geld omdat hulle graag saamwerk wanneer dit vir hulle direkte voordele inhou.  Roosboompies vra dikwels direk of indirek: “Wat is dit vir jou werd?” Enige kind se sakgeld behoort ten minste gedeeltelik gekoppel te wees aan verantwoordelikhede in die huis. ’n Mens moet versigtig wees vir manipulasie met geld.  Ons moet ook versigtig wees waarvoor ons geld gee of wegneem. Ons behoort ook nooit gehoorsaamheid te koop nie. Gehoorsaamheid is die minimum wat ons van ons kinders mag eis.  Maak dus sinvolle planne oor wat jy wil vergoed en watter verliese aan sakgeld jou roosboompie kan verwag wanneer huisreëls oortree word.

    • Die gekrapteplaat-tegniek

    Hierdie tegniek werk uitstekend met roosboompies of palmboompies wat baie protesteer, redeneer en onderhandel. Dit neem die onderhandelingstafel waarby hulle jou probeer kry, weg. Dit staan egter teenoor die idee om net een keer te praat en dan te straf wanneer daar nie samewerking is nie. Herhaal die opdrag soveel keer as wat nodig is, maar moet niks anders sê of op enige iets reageer wat jou roosboompie gebruik om jou van stryk te bring nie! Die gesprek kan dus so verloop:

    Spesiale pesbeheer net vir roosboompies

    • Beperk blootstelling aan geweld
    • Moenie ingee onder intimidasie en woede-uitbarstings nie.
    • Bly weg van omkopery.
    • Koppel sakgeld direk aan verantwoordelikheid.
    • Moet geen ongeskiktheid duld nie.
    • Let op gesindhede, nie net gedrag nie.
    • Moenie smeek of betaal vir gehoorsaamheid nie.
    • Pasop vir te veel klem op prestasie ten koste van karakter.

           ’n Kweekplan vir ’n roosboompie

    Ons het reeds baie gesê oor die ferm hand wat roosboompies nodig het. Hulle steek  ons met daardie venynige dorings wanneer ons hulle snoei, en hulle weerstaan alle vorming wat ons met hulle probeer omdat hulle so eiesinnig en gedetermineerd is. Ons moet begin deur ’n hap af te byt wat ons kan kou. Ons gaan dus met ons roosboompies ons dissiplinêre doelwitte baie versigtig kies om seker te maak ons kan die geveg tot die einde veg. Ons gaan ook seker maak daar is ’n groot skoot positiewe doelwitte in die mengsel sodat ons nie net snoei nie, maar ook besproei. Ouerskap met  roosboompies raak baie maklik negatief, wreed, gewelddadig en onredelik omdat hulle ons so geweldig kwaad kan maak.

    Kyk nou die video: “Vyf ankers vir jou kind”.