Deel 6 : Die denneboomdialek

Deel 6 : Die denneboomdialek

Wanneer ons ons denneboompies wil laat luister, en wil voorkom dat hulle “afskakel” terwyl ons met hulle praat, kan die volgende riglyne ons help:

  • Staan, sit of lê stil by jou kind en maak seker jou hele liggaam en gesig is ontspanne en vriendelik voordat jy begin praat.
  • Praat stadig en rustig en kyk jou kind vas in die oë.
  • Moenie kritiek gebruik as aansporing nie – dit het die omgekeerde effek.
  • Kommunikeer vanuit die verhouding. Gee “ons-boodskappe” eerder as “jy-boodskappe”.
  • Moenie ’n klomp keuses gee nie; neem eerder besluite en gee dit deur. Denneboompies vind sekuriteit in jou selfversekerdheid.
  • Moenie skree nie, want denneboompies “skakel af” wanneer kommunikasie so emosioneel intens en bedreigend is.
  • Pasop vir baie vrae – dit is vir denneboompies moeilik om onder “kruisverhoor” te wees.
    Maak eerder stellings, en wag vir hulle om saam te stem, te verskil of meer inligting te gee.
  • Wanneer jy ernstige vrae moet vra, doen moeite met die aanloop, en gee tyd vir die reaksie. Vrae is dikwels vir denneboompies bedreigend. Hulle wil graag oor al die implikasies van die vraag en hulle antwoord dink, voordat hulle antwoord.
  • Hou “preke” kort en kragtig. ’n Denneboompie luister na die slotsom, en kan in baie detail verdwaal.
  • Praat oor die toekoms, die lang termyn of die vooruitsig – dit is waar ’n denneboom se fokuspunt is. As jy dus byvoorbeeld aan ’n denneboomseun se tafelmaniere moet werk, verduidelik dat sy goeie maniere eendag gaan verseker dat mense hom respekteer.
    Wanneer hy vervelige skoolwerk moet doen, herinner hom daaraan dat hy na matriek sal kan kies watter werk en hoeveel daarvan hy wil doen. Dit sal bepaal hoe ’n goeie

beroep hy kan volg en hoe hy vir sy gesin sal kan sorg.

Opgesom:

  • Gee ’n voorbeeld,
  • gee die opdrag stuk vir stuk,
  • gee hulp en bystand,
  • gee tyd en
  • gee waardering vir die moeite.

Hoe kan ons beter na ons denneboompies luister?

  • Wees geduldig met jou denneboompie se langdradigheid. Wanneer hy wel praat, sal jy verbaas wees oor hoe lank hy kan aanhou. As jy egter ongeduldig raak, kan dit die laaste diep gesprek wees wat jou kind met jou gaan hê.
    Moenie dennebome in die rede val nie, hulle pouses is lank, want hulle prosesseer en dink versigtig voordat hulle praat. Gee hulle tyd.
  • Geniet hulle droë humorsin. Dit is een van hulle oulikste eienskappe.
  • Respekteer die moed wat dit van hulle verg om voor ander te praat, en moet hulle nie kritiseer vir hulle verhoogvrees en skuheid nie.
  • Onthou daar is tye wanneer denneboompies nie kan of wil praat nie – respekteer dit asseblief.
  • As jou denneboompie besonder skaam is, moet hom of haar nie dwing om voor ander te praat nie.
  • Denneboompies manipuleer deur stilstuipe, want woorde is mag. Jy kan nie daardie toegeklapte oester oopforseer, en dink die pêrel gaan uitrol nie! Wag maar daarvoor om self later oop te gaan.
  • Omdat denneboompies nie dikwels spraaksaam is nie, moet ons na meer as net hulle woorde “luister”. Let op hulle liggaamstaal, slaap- en eetpatrone, gesigsuitdrukkings, gewoontes en skoolwerk om seker te maak dat dit goed met hulle gaan. As hulle stil is, en oor niks kla nie, beteken dit nie noodwendig dat hulle gelukkig en tevrede is nie! As jy belangstelling toon, sal hulle wel hulle hart met jou deel.

Opgesom:

  • Gee tyd.
  • Gee respek.
  • Wag!
  • “Lees” hulle.