Die jong dennerosie
Hierdie outjies is die rasioneelste en daarom die minste van ’n emosioneleuitdaging. Hulle kom dikwels as gevolg hiervan baie volwasse vir hulle ouderdom voor. Dennerosies is egter waarskynlik die hardkoppigste van al die kombinasies, want hulle het ’n roosboom se dryf om in beheer te wees
en ’n denneboom se onbeweeglikheid, alles in een. Hulle kan dus ’n groot uitdaging wees as hulle nie ’n goeie verhouding met hulle ouers het nie. As die verhouding egter goed is, kan hulle droomkinders wees – verantwoordelik en selfbeheersd. Hulle maak gewoonlik ’n baie onafhanklike indruk omdat hulle hulle eie ding graag alleen doen, en nie toesig wil hê of geneig is om hulp te vra nie.
Die denneboompie kanselleer dikwels die roosboompie se plofbaarheid in so ’n mate uit dat die dennerosies goeie beheer oor hulle emosies het. Dennerosies is gewoonlik nie baie sosiaal of uitbundig nie. Hulle het maar een of twee goeie vriende. As hulle gelukkig is in hulle gesinne, is hulle nie dikwels op die sosiale roete nie. Hulle bring eerder een maat op ’n slag na hulle eie huis toe. Dennerosies word dikwels as leiers gekies al is hulle nie gewoonlik gewilde maatjies nie. Dennerosies styg dikwels in streng akademiese rigtings en een-mansport uit. Hulle determinasie gekombineer met ’n belangstelling in een rigting, maak dit moontlik.
Hierdie kombinasie kinders is die “botste”, en om met hulle ’n warm, diep verhouding te bou, is die moeilikste. Hulle is nie geneig om baie fisieke toenadering tot hulle ouers te soek nie; daarom moet daar op ander vlakke kontak gemaak word.
Die volgroeide denneroos
Mans met hierdie kombinasie maak myns insiens die beste hoofuitvoerendebeamptes. Hulle is rasioneel en gedrewe, wat belangrik is in hulle posisie, maar het darem die sensitiwiteit vir mense wat saam met hulle denneboomhelfte kom. Hulle kan hulle fokus gepas tussen die taak en die mense verdeel sonder om die een of die ander te laat skade ly.
Denneroosvrouens is skaarser as die mans, maar die vroue met hierdie temperament in die korporatiewe wêreld klim gewoonlik die leer tot heel bo. Dennerose (veral die mans) is glad nie op detail of die emosionele ingestel nie; daarom is hulle gewoonlik nie in administratiewe of diensberoepe gelukkig nie. Hulle raak gefrustreerd met die papierwerk en met die uitputtende aard van werk met mense se probleme. Hulle aard baie beter in die sakewêreld waar hulle gebalanseerde uitkyk en perspektief op die groter prentjie van waarde is. Dennerose het gewoonlik baie selfrespek en respek vir ander; daarom is hulle mense wat ook by ander respek afdwing.
Hulle selfvertroue gekombineer met hulle rustige denneboomhelfte maak hulle gewoonlik waardige, professionele mense. Dennerose word dikwels toppresterende akademici omdat hulle logiese en rasionele vermoëns so groot is, mits hulle die denneboom se ingebore geneigdheid om met die minste inspanning moontlik deur die lewe te gaan, kon oorwin. Dennerose is baie onbeholpe wanneer dit by emosies kom. Hulle kan baie kortaf en bot oorkom omdat hulle min praat en by die kern bly. Wanneer hulle hulle eie emosies probeer uitdruk, kom daar gewoonlik min van hulle hart te voorskyn, en wanneer mense om hulle emosioneel raak, vlug hulle. Hulle is gewoonlik nie besonder warm, uitgaande mense nie, en het maar net enkele vriendskappe wat baie jare sal neem om in diep verhoudings te ontwikkel. Dennerose se trots is soms hulle ondergang omdat hulle waarskynlik die moeilikste erken dat hulle verkeerd was.
