Die jong sierrosie
Hierdie kombinasie lewer ’n uiters verantwoordelike, betroubare, werkgerigte boompie op. Sierrosies dryf hulleself en het baie min aanmoediging nodig om hulle verantwoordelikhede na te kom. Hulle maak sterstudente tensy hulle groot konflik met ’n roosboomonderwyser het. Hulle is ook uiters onafhanklik en selfstandig. Hulle word gou “groot” omdat hulle ’n kombinasie is van die twee doelgerigte, hardwerkende, ernstige temperamenttipes. As die sierboom-komponent egter die grootste is, kan die outjie baie ma-vas wees in die baba- en kleuterjare. Hulle slegte buie kan baie lank aanhou weens hulle geneigdheid tot negatiewe emosies en hulle vasberadenheid om hulle griewe bekend te maak.
Hulle straf graag hulle ouers deur lank en aanhoudend hard te protesteer. Sierrosies is ernstig en reageer gewoonlik sleg op tergery of iemand wat laf is. Hulle reageer met woede op verleenthede. Sierrosies is die bewaarders van orde, reëls en die pikorde. Hulle besluit wie is wie, en wie doen wat – regte klein generaaltjies.
Sierrosies wissel egter tussen manmoedigheid en moedeloosheid, afhangend van of hulle goed of sleg vaar. Wanneer hulle presteer, is hulle baie trots en vol selfvertroue, maar ’n klein mislukkinkie kan die hele selfbeeld aan flarde slaan. Hulle selfbeeld is dus nie so solied as wat dit lyk nie! Hulle kan hulleself vreeslik afkraak, maar voel dis baie onregverdig wanneer iemand anders hulle kritiseer! Sierrosies is gewoonlik uitblinkers in alles wat hulle aanpak, want hulle het die perfeksionisme van ’n sierboompie gekombineer met die deursettingsvermoë van ’n roosboompie.
As hulle aangemoedig en ondersteun word, is daar geen plafon bo hulle koppe nie. Sierrose is beslis die kwaaiste kinders. Hulle is krities, en vereis van almal die beste – soos van hulleself. Hulle is ongelukkig baie blind vir hulle eie foute wanneer dit hulle pas! Sierrosies is stekelrig en effens afsydig – nie die warm, troetel-tipe kinders nie. Hulle soentjies en drukkies is skaars, en hulle ouers kan maklik voel asof hulle kinders nie van hulle hou nie. Dit is egter eenvoudig nie hulle hoofliefdestaal nie. Hulle floreer eerder op komplimente, waarderende woorde en erkenning. Wanneer jy hulle met al hoe meer verantwoordelikhede vertrou namate hulle ouer word, gaan hulle dit as liefde ervaar.
Die volgroeide sierroos
Volwasse sierrose maak kwaai ouers: baie reëls, baie strawwe, hoë eise. Hulle vergeet maklik van hulle kinders se emosionele behoeftes, en fokus eerder op doelwitte, skedules en take.Sierrose is baie gemaklik in leierskap- en opleidings- of onderwysposisies. Hulle glo buitendien dat almal iets by hulle kan leer of hulle behoort te volg. Iemand het eenkeer vir my gesê haar sierroosseun dink hy is die eksperiment, en die res van die mense is die kontrolegroep. Dit is nogal tipies sierroos. Sierrose kan gewoonlik enige doelwit bereik wat hulle vir hulleself stel, en maak ’n sukses van alles wat hulle aanpak. Hulle taakgerigtheid is onverbeterlik. Sierrose is nooit tevrede nie – alles kan beter, vinniger en gladder verloop. Die uitkoms kan altyd beter wees. Die ander mense kan altyd beter doen. Sierrose meet hulleself en ander aan produktiwiteit eerder as aan karakter. Hulle vergeet dat wie jy is voorkeur behoort te geniet bo wat jy doen. Sierrose is die skuldigste aan ’n onvermoë om te speel, te rus, vakansie te hou, op hulle gesinne te fokus en stil genoeg te word om by hulle eie binnekant en binnekamer uit te kom. Sierrose is meer gedrewe as enige ander kombinasie, en is baie geneig tot werkolisme en uitbranding. Hulle is hartaanval- en senu-ineenstortingmateriaal as hulle nie ontspanning in hulle program inbou nie! Sierrose verwag van almal dieselfde werkvermoë en -tempo as wat hulle het, en klim maklik in ander se karakter in wanneer hulle nie by die sierroos kan byhou nie. Hulle maak gewoonlik vyande deur slawedrywers of diktators te wees.
