Wat is my sterk punte as palmboomouer?
Omdat jy ’n palmboomouer is …
Jou swak punte kom na vore wanneer jou temperament met jou kinders s’n bots. Elke soort boompie daag ons op ’n unieke manier uit:
Wanneer ’n palmboom ’n palmboompie grootmaak
Julle twee is albei groot dromers, wat beteken dat jy die ideale ouer is om jou kind tot die hoogste hoogtes aan te vuur. Gebruik jou optimisme om jou kind se ideale aan te blaas. Julle het die resep om altyd in kompetisie te wees vir die beskikbare aandag. Palmboomouers en hulle kinders word maklik jaloers op mekaar as gevolg hiervan. Wees versigtig dat jy as volwassene nie hieroor kinderagtig optree nie. Gun jou kind die kalklig. Wees versigtig om nie op gelyke voet te probeer deel wees van jou palmboompie se sosiale kring nie. Julle is albei pretliewend en nie baie besorgd oor pligte, skedules, tyd en detail nie. Onthou dat jy die ouer is wat ’n voorbeeld van selfdissipline moet stel aan ’n kind wat dit nie vanself gaan leer nie. Jy moet onderskei tussen jou rolle as opvoeder en speelmaat. Jou eie ervarings kan jou kind geweldig baie help. Praat eerlik oor jou foute en wat jy daaruit geleer het. As jou lewensmaat ’n kwaaier boom is, kan jy in die versoeking wees om dissipline aan hom of haar oor te laat. Onthou dat respek en gesag hand aan hand gaan en dat ’n mens dit moet verdien.Pasop om nie vriendskap met jou kind bo jou ouerskaprol te plaas nie.
’n Palmboomouer en ’n roosboompie
Moenie verwerp voel wanneer jou roosboompie wegdeins van die vertroeteling wat so natuurlik vir jou kom nie – onthou dis nie persoonlik nie! Gebruik eerder jou gawe van opbouende woorde om jou liefde in jou roosboompie se liefdestaal oor te dra. Roosboompies hou nie van lawwigheid wanneer daar ’n taak op hande is nie, so wees versigtig met die tydsberekening van jou grappies. Hulle gaan baie “samewerking” van jou verwag. Hulle het idees oor almal se verantwoordelikhede, en kan maklik voel dat ouers nie hulle deel doen nie. Wanneer hulle voel jy versuim om jou ouerlike pligte na te kom, is dit vir hulle geweldig frustrerend.
Jou pretliewende, gemaklike geaardheid maak dat streng toepassing van reëls en Dissipline vir jou baie moeilik is. Roosboompies het egter ’n baie ferm hand nodig, en sal jou nie ernstig opneem of jou gesag aanvaar as dit duidelik word dat jy nie ’n sterk genoeg hand het om dissipline deur te voer nie. Roosboompies moet sien dat jy ernstig is, anders gaan hulle vir jou respek verloor. Kies dus ’n paar kernreëls waarby jy staan of val. Jy is geneig om oorhaastig te praat. Moenie voel jy hoef dadelik ja of nee te sê nie. Sê eerder dat jy sal dink, besluit en dan antwoord. Pasop vir leë beloftes, want roosbome het min ooghare vir onbetroubare mense. Probeer by die feite bly, want roosboompies is baie meer rasioneel as emosioneel. Dink dus versigtig wat jy wil sê, en bly dan kalm en feitelik.
’n Palmboomouer en ’n sierboompie
Jou grootste uitdaging gaan wees om jou sierboompie se negatiewe emosies te hanteer. Lees die gedeelte hieroor so dikwels as wat nodig is, en weerstaan die versoeking om jou sierboompie so vinnig moontlik te probeer opbeur. Leer om meer te luister en minder te praat. Jou sierboompie het jou begrip nodiger as jou raad of optimistiese perspektief! Jy sal ernstig moet wees oor die belangrike, diep dinge in jou sierboompie se lewe. Onthou hoe intens sierboompies elke ding ervaar, en aanvaar dit. Moet nooit grappies maak oor iets wat jou kind as ’n krisis ervaar nie. Jy kan van nature geneig wees om mense te vermaak met stories en jou humorsin. Wees versigtig om nie jou selfbewuste sierboom
daarmee in die verleentheid te bring nie. Moet asseblief nie hulle blapse of kindertydstaaltjies deel maak van jou repertorium van komiese partytjiestories nie. Ter wille van jou georganiseerde sierboompie wat soveel struktuur en orde nodig het, moet jy moeite doen met beplanning en roetine. Probeer doelwitte vir jou kinders se opvoeding stel, want ’n sierboom wil graag weet waarheen julle almal op pad is.
’n Palmboomouer en ’n denneboompie
Jy gaan moet leer om jou tempo af te bring. Wanneer jou denneboom so stadig en rustig praat en beweeg, gaan jy moet stilstaan, selfs gaan sit, rustiger praat en aandagtig luister. Moenie jou avontuurlustigheid, vermoë om risiko’s te neem, waagmoed en wye verskeidenheid van belangstellings as maatstaf gebruik nie. Denneboompies kan nie soos jy funksioneer nie – hulle het nie die energie in hulle liggame of psige daarvoor nie! Wees baie versigtig om opreg en eerlik te wees. Pasop om nie dramaties of ooremosioneel te wees wanneer jy belangrike dinge met jou denneboompie moet deurwerk nie, want jou intensiteit is vir hulle te groot – hulle skakel af of deins terug. Leer hoe om met jou hele liggaam te luister. Handhaaf ’n lae profiel, want jou denneboompie het nie die sjarme om met jou te kompeteer vir vriende se aandag nie.
Kyk nou die video: “Waarom ouers dit verloor”.
