Wat is my sterk punte as sierboomouer?
Omdat jy ’n sierboomouer is …
Jou kinders verskil genoeg van jou om jou soms erg te verwar. Die volgende riglyne mag jou dalk help om julle temperamentbotsings te verstaan en te verminder.
Wanneer ’n sierboom ’n sierboompie grootmaak
Jy en jou kind bring waarskynlik die rigiede swart-en-wit in mekaar uit. Die meeste van julle botsings sal oor onbenullighede gaan waaroor julle elkeen afsonderlik geweldig sterk voel – dingetjies soos watter skoene die beste by die klere pas of watter stukkie werk eerste gedoen moet word. Leer dus om terug te tree vir perspektief wanneer julle vashaak, en laat gaan die beheer wanneer dit nie oor ’n geestelike beginsel, integriteit of waarde gaan nie. Jy wil al die detail van jou kind se lewe weet, maar jou sierboompie wil privaatheid hê. Leer om dit te respekteer wanneer jou sierboompie nie wil praat nie. Omdat julle albei baie emosioneel is, en stadig aanbeweeg wanneer julle seergekry het, gaan julle baie oefening kry in die kuns van belydenis en vergifnis. Jy en jou sierboompie speel waarskynlik op mekaar
se skuldgevoel. Sierboompies kan ons maklik probeer manipuleer om hulle nie te straf nie, en hulle teen die gevolge van hulle foute te beskerm.
’n Sierboomouer en ’n palmboompie
Julle is teenpole as dit kom by julle uitkyk op die lewe – jy is ernstig oor alles en die palmboompie oor niks! Dit gaan waarskynlik die grootste uitdaging wees om jou effens negatiewe, kritiese inslag te verander om jou optimistiese klein palmboompie reg te benader. Leer dus om so “lig” en positief moontlik te wees. Jou palmboompie het nie dieselfde standaarde en sin vir detail nie; daarom moet jy baie duidelik sê wat jy verwag. Onthou dat jy nie graag wil uitstaan nie, maar dat jou palmboompie juis
anders wil wees. Geniet jou palmpie se unieke geaardheid. Moet nooit die vierkantige gietvorm waarin jy geneig is om almal te wil pas, naby jou palmboompie bring nie. Jy kan baie maklik net die negatiewe sien – met ander woorde dit wat jou kind nie perfek doen nie – en al die mooi dinge in jou palmpie se unieke geaardheid miskyk. Wees baie versigtig daarvoor. Jy kan geneig wees om dinge swart en wit te sien, en te glo in een regte manier – joune. Palmboompies is egter baie kreatief en alternatief in hulle benaderings – nie so konvensioneel soos jy nie. Leer hoe om saam met jou palmboompie te speel en te ontspan, al is die kind in jou baie skaars. Dit is die vlak waarop palmboompies ’n verhouding bou. Jou
groot persoonlike ruimte kan maak dat jy wegdeins wanneer jou baie lieftallige palmboompie soentjies en drukkies begin uitdeel. Byt op jou tande as jy moet, maar as jy dit kan leer geniet – des te beter! Jou palmboompie gaan op jou gevoelens speel om haar te red elke keer wanneer sy onverantwoordelik was. Moenie ingee nie! Sy weet hoe verantwoordelik jy vir alles en almal voel, en hoe skuldig jy gaan voel as jy haar nie help nie. Haar onafhanklikheid is egter belangriker as jou gevoelens.
’n Sierboomouer en ’n roosboompie
Sierboomouers geniet gewoonlik hulle roosboompies se dryfkrag, verantwoordelikheidsin, hardwerkendheid en deursettingsvermoë. Hulle loop hulle egter vas teen die roosboompie se eiewilligheid. Julle deel ’n baie belangrike eienskap – doelgerigtheid. Wanneer julle doelwitte egter verskil, is dit ’n resep vir konflik. Hou die reëls min maar duidelik, en maak hierdie reëls saam met jou kind sodat julle uit die staanspoor ’n ooreenkoms het oor wat verwag word. Jy is geneig om alles in die fynste besonderhede te bestuur. Dit gaan jou roosboompie teen die mure uitdryf. Hulle wil weet wat die slotsom is van wat jy verwag, en dan moet jy uit hulle hare bly tot hulle dit op hulle manier gedoen het. Weerstaan die versoeking om so baie vrae te vra. Roosboompies ken jou swakhede, en weet hoe maklik
jy dinge persoonlik opneem of skuldig voel. Probeer jou dus emosioneel distansieer van die gedrag wat jou seermaak, en hanteer dit so kalm en rasioneel as wat jy kan. Speel die bal, nie die man nie. Jy is die grootmens.
’n Sierboomouer en ’n denneboompie
Die grootste fout wat sierboomouers met denneboompies maak, is wat ek “mikrobestuur” noem. Dit behels die gedetailleerde “dra en aandryf” van jou denneboompie. Omdat ’n denneboompie so stadig en ongemotiveerd kan wees, gee jy ’n eindelose string opdragte van vroeg tot laat, gewoonlik nie sonder ’n groot persentasie dreigemente, aansporings, tydlimiete en hopeloos te veel detail nie! Dit hou jou denneboompie ongelukkig presies waar jy hom probeer uithelp – in ’n hulpelose, afhanklike staat. As sierboomouer het jy baie hoë verwagtings en standaarde, is jy prestasiegedrewe en taakgerig. Jou denneboompie is presies die teenoorgestelde. Jy kan maklik onbewustelik jou denneboompie na ’n minderwaardige mislukking laat voel. Verminder die druk en kritiek in jou woorde, en vervang dit met waardering vir elke poging wat jou denneboompie maak – geslaagd of nie. Moenie oor dinge uit die verlede karring nie. Denneboompies kan dit glad nie hanteer nie. Gebruik jou vermoë om te luister en emosies te verstaan om jou denneboompie geliefd te laat voel. Onthou dat min mense so perfek en aanhoudend soos jy kan werk, en dat jou denneboompie baie meer blaaskanse as jy nodig het. Niks lê jou denneboompie so lam soos konflik nie. As julle dus gebots het, moet jy baie duidelik aandui wanneer die konflik verby is, en nie die atmosfeer dik laat bly nie.
Kyk nou die video: “Waarom ouers dit verloor”.
