Denneboompies word verlam deur spanning en konflik. Wanneer daar onafwendbare spanning is, moet denneboompies so min moontlik aan gevegte, gesprekke oor die probleme en die emosies van die persone in konflik blootgestel word. Hulle moet gereeld gerusgestel word dat dinge uitgewerk word en sal verbygaan.
Denneboompies se wortels wil onverstoord in die grond rus. Hulle geniet daarom alles wat gerusstellend stabiel is. Van al die boomsoorte is verplanting vir hulle dikwels die moeilikste omdat hulle stadig nuwe maats maak en lank neem om weer wortel te skiet. Doen moeite met julle gesinslewe. Maak seker julle het ryk tradisies en spesiale tye saam.
Denneboompies praat minder as ander kinders en maak nie maklik hulle harte oop nie. Hulle kom stil en tevrede voor en stel min eise. Gevolglik is dit maklik om maar net te aanvaar hulle is gelukkig en het niks nodig nie. Ongelukkig vereensaam hulle daarom maklik. Hulle het hulle eie mense nodiger as wat dit lyk. Hulle vertrou net iemand met hulle hart as daardie persoon bewys het dat hy of sy bereid is om langs
hulle te gaan stilstaan en werklik te luister. Ons moet saans tyd maak om rustig by hulle te sit of te lê. Dis onder sulke omstandighede wat denneboompies se harte vir ons oopgaan – nie terwyl ons van die skool af huis toe jaag, en via die truspieëltjie probeer verhouding bou nie! Hulle laat die haastige ouers onder ons in ’n sweet van ongeduld uitslaan, want hulle kan baie langdradig raak wanneer hulle uiteindelik besluit om te praat. Ons kan egter langs geen ander roete regtig by hierdie kosbare boompies se siele uitkom nie.
Denneboompies is dikwels randeiertjies en toeskouers wat ons laat dink dat hulle geen sosiale behoeftes het nie. Hulle is egter baie sensitief vir verwerping deur hulle portuurgroep of gesin. Soos ’n denneboom in ’n plantasie, wil hulle nie noodwendig uitstaan nie, maar hulle wil ook nie alleen staan nie! Ons moet hulle ook toelaat om in groepe te sosialiseer al lyk dit vir ons asof hulle net sit en tande tel. Denneboompies kan baie genot uit ander mense se plesier put sonder om daaraan deel te neem.
Denneboompies is natuurlike versorgers. Hulle moet minstens plantjies of troeteldiere hê.
Die meeste denneboompies se toeskouertemperament maak hulle ouers bekommerd. Ons moet onthou dat die meeste dennebome een passie in die lewe gaan hê, en oor bitter min ander dinge opgewonde gaan raak. Ons por nie aan nie, vra nie te veel vrae nie, en druk nie ons eie belangstellings in hulle kele af nie. Denneboompies kan van ver af sien of hulle iets gaan geniet. Hulle het ’n goeie aanvoeling vir wat hulle kan doen, en nie kan doen nie. Dit is waarom hulle net weier om sekere dinge selfs een keer te probeer. Respekteer dit. Denneboompies se belangstellings en talente stem ook nie altyd ooreen nie. ’n Denneboompie wat sy een passie in die lewe ontsê word, kan vir die res van sy lewe geknak wees. Wanneer ons hulle belangstellings misken, is dit hoe eensaam enwaardeloos ons hulle kan laat voel.
Denneboompies is rustige siele. Hulle is soos ’n bootjie op ’n windstil dag. Ons kan nie net opdragte en vrae oor hulle blaas en verwag hulle moet dadelik oor die water begin vaar nie. Hulle is gewillig en inskiklik van geaardheid, behalwe wanneer ons tydsdruk op hulle toepas! As hulle kan dink, en tot verhaal kom, kry ons gewoonlik ’n goeie reaksie of antwoord.
Denneboompies is reeds as babatjies rustiger as die ander boompies en slaap gewoonlik die meeste. Hulle energie bereik natuurlik in hulle vroeë kinderjare ’n piek, maar daarna neem dit stadig af en tel nie weer maklik op nie. Hulle het eenvoudig baie rus en aftye nodig.
Denneboompies wys dit nie, maar is baie sensitief vir kritiek. Hulle hou eenvoudig op met probeer wanneer hulle die indruk kry dat iemand nie tevrede is nie. Ons moet besef dat elke nuwe ding baie waagmoed van hulle verg, en dat alles wat hulle aanpak vir hulle na inspanning voel. Ons moet hulle pogings waardeer, en hulle daarvoor stilweg op die skouer klop, sonder om te hoë verwagtinge te stel. Moedig jou denneboompie van jongs af vriendelik aan om nuwe dinge te probeer – klein dingetjies. Gereedheid is een van die dinge wat ’n baie groot rol speel in denneboompies se waagmoed. As ons ’n keer of wat gevra en aangemoedig het, en die outjie steek nog viervoetig vas, moet ons besef dat hy eenvoudig net nie gereed is nie.
Denneboompies kan deur mense se maskers sien. Hulle word nie maklik beïndruk of meegesleur nie. Wanneer ’n denneboompie ’n rolmodel het wat integriteit, opregtheid en standvastigheid uitstraal, trek so ’n persoon ’n denneboompie soos ’n magneet aan. Dit is amper die enigste soort mens wat ’n denneboom aan die beweeg kan kry! Denneboompies sal so iemand volg en idealiseer – iets wat baie nodig kan wees as hulle nog op soek is na hulle skeppingsdoel.
Denneboompies is banger vir konflik as vir enige iets anders. As ons met hulle moes raas of hulle moes straf, moet hulle agterna in soveel woorde hoor dat alles afgehandel is. Wanneer spanning aanhou voortduur na ’n bietjie konflik, is dit vir hulle verskriklik sleg.
Kyk nou die video: “Taboes met denneboomkinders”.
