Wees op die uitkyk vir onrealistiese doelwitte. Sierboompies kan maklik perspektief verloor. Leer hulle om babatreetjies te gee. Sierboompies is baie krities. As jou sierboompie vol openlike kritiek vir ander is, moet jy ingryp en sulke geskinder of swartsmeerdery verbied. Ons mag nie op iemand neersien net omdat hulle nie ons vermoëns of eienskappe deel nie.
Sierboompies kan al hoe suurder word as ons hulle nie van kleins af hierdie belangrike vaardigheid leer nie. Sierboompies beleef ’n teleurstelling en begin dan met hulleself daaroor praat. Ons kan hulle egter leer om anders en nuut oor slegte gebeure te dink. Oefen saam met jou kind om die situasie om te keer.
Wanneer ons sierboompies oorweldig is deur emosie, kan hulle nie altyd verduidelik wat hulle voel of waarom hulle so voel nie. Ons moet hulle probeer help om hulle emosies te verstaan omdat dit ’n voorwaarde is vir hulle oorwinning daaroor. Wanneer ’n sierboompie dan niks verder sê nie, moet ons dit aanvaar. As sierboompies al kan skryf, vind hulle dit dikwels baie makliker om neer te skryf wat hulle voel. Leer hulle ook die tegniek wat Gary Smalley “emosionele woordprentjies” noem (Smalley, 1984:29). ’n Kind wat hierdie tegniek leer gebruik het, het verduidelik dat hy voel soos ’n ou lap wat onder ’n wasbak weggegooi is, en waarop water stadig drup sodat hy nou oortrek is met mufkolle. Die emosie het dalk nie ’n naam nie, maar ons verstaan mooi hoe dit moet voel, nie waar nie? Dit is ’n waardevolle manier vir enige mens om iemand te laat verstaan hoe diep hulle seer is.
Sierboompies ervaar ons pogings om hulle te troos dikwels as afkeuring of verwerping van hulle en hulle gevoelens. Hulle dink ons wil net hê hulle moet ophou huil. Hulle wil deernis hê, nie oplossings nie. Eintlik kan net hulle hulleself troos. Hulle moet gehelp word om uit te vind watter selftroostegnieke vir hulle die beste werk.
Sierboompies glo eerste die slegste in elke situasie. Hulle raak maklik selfbejammerende slagoffers. Hulle lees iets agter elke negatiewe ding, en raak maklik agterdogtig. Dit kan ’n baie negatiewe eienskap word as ons nie ons sierboompies leer om voorkeur aan feite te gee nie. Sierboompies sien hulleself as baie rasioneel, maar eintlik trek hulle emosies hulle ’n streep en maak hulle dikwels verkeerde afleidings uit konfliksituasies. Hulle moet leer om reguit te vra of daar iets verkeerd is en of hulle die situasie reg lees.
Sierboompies sien dinge gewoonlik wit of swart. Hulle kan rigied wees en glo dat net hulle manier, hulle perspektief en hulle metode reg is. Sierboompies dink eng en meet almal aan hulle eie standaarde. Wanneer hulle begrip vir ander leer, kan hulle van die deernisvolste mense op aarde word! Hulle het groot kapasiteit om ander te dien, mits hulle hierdie kritiese houding kan oorwin.
Ongelukkig hou sierboompies outomaties boek van die kwaad. Sierboompies leef in die verlede en in die toekoms. Hulle wroeg oor die verlede en bekommer oor die toekoms. Ons het hier te make met ’n karakterfout wat ons sierboompies baie ongewild kan maak en ook kan voorkom dat hulle mooi verhoudings kan handhaaf. Ons moet dus van jongs af weier om na ou stories terug te keer. Leer jou sierboompie die volgende dinge oor vergifnis deur voorbeelde uit julle lewe te noem:
Sierboompies voel maklik hulpeloos en sukkel ongelukkig daarby om hulp te vra. Ons moet die hulpelose bondeltjies selfbejammering leer om gereeld te vra: “Kan jy my asseblief help?” En om die vraag te antwoord: “Hoe kan ek jou help?” Elke keer wanneer ons sierboompie bekommernis of moedeloosheid uitspreek het ons geleentheid om hulle op die Here se liefde, sorg en teenwoordigheid te wys. Verseker hulle hiermee saam van jou gewilligheid om te help. Wanneer hulle moedeloos en hulpeloos voel, moet ons hulle ook daaraan herinner dat daar baie mense om hulle is wat vir hulle omgee, want hulle vergeet dit maklik!
Sierboompies kan gelyktydig geweldig selfsugtig en selfopofferend wees. Hulle maak soms as volwassenes wonderlike versorgers en vrywillige gemeenskapswerkers as hulle uitgedaag word om buite hulle gemaksone te lewe. Wanneer sierboompies depressief raak, kyk hulle al dieper na binne, verdrink in donker emosies en word so swartgallig dat hulle vir niemand iets kan beteken nie. As hulle in daardie toestand egter iemand teëkom met wie dit ook sleg of selfs slegter gaan, gebeur iets wonderliks – hulle kyk buitentoe en terwyl hulle iemand anders versorg, word hulle eie seer beter.
Baie sierboompies is alewig ernstig en effens gespanne. Hulle moet geleer word om bekommernis en werk eenkant toe te skuif, al is dit net ’n paar minute lank. Sierboompies kan deur sentimentele, simboliese aksies dikwels regtig verligting beleef. Daar is baie boeke oor ontspanningstegnieke. Elke sierboom-ouer of ouer met ’n sierboompie behoort so ’n boek te lees en van die tegnieke vir hulle sierboompies te leer!
Sierboompies wil so graag ander tevrede stel, volgens die reëls speel en alles perfek doen. So kan hulle baie maklik hulle hele lewe vir ander leef sonder om ooit te vra: “Waarvan hou ek? Help hulle om daardie vraag te beantwoord deur hulle fyn en so objektief moontlik dop te hou en terugvoering te gee oor wat jy sien. Deur hierdie opmerkings kan sierboompies uit die gietvorm van ander se verwagtings breek om te wees wie hulle regtig is en te word wat hulle bestem is om te word.
Sierboompies se groot persoonlike ruimte en behoefte aan privaatheid strek verder as hulleself. Van al die boompies leer hulle die moeilikste om te gee en te deel. Ons moet aanvaar dat hulle altyd een of twee gunsteling-speelgoed, -kledingstukke of -besittings gaan hê. Hulle moet egter geleer word om op ander maniere te gee en te deel:
Hoe sierboompies leer
Kyk nou die video: “Wat jou kind kan kelder”.
