Deel 2: Nog maniere hoe die roosboom die lewe ervaar

Moegheid en die roosboom

Roosbome pes omslagtige kommunikasie. Hulle raak moeg wanneer hulle deur ellelange redenasies moet luister sonder ’n baie duidelike slotsom. Hulle is net in die samevatting geïnteresseerd. Vergaderings ter wille van vergaderings sal hulle behoorlik uitmergel. Hulle word ook baie ongeduldig wanneer hulle met emosies gekonfronteer word. Hulle rasionele ingesteldheid maak dat emosiebelaaide situasies hulle energie tap. ’n Gesanik of gekla sal hulle ewe gou dreineer. Roosbome word ook moedeloos wanneer hulle te kampe het met sisteme en rompslomp waarvan hulle nie die sin kan sien nie. Hulle is van nature goed met die ontwikkeling van hulle eie kortpaaie en praktiese oplossings. Hulle kan egter nie funksioneer wanneer hulle net ter wille van die vrede ander mense se metodes moet volg nie. Doelloosheid en gebrek aan visie laat ’n roosboom ook soos ’n ou ballon afblaas. Sonder die wortel voor die neus en die eindpunt in sig, kan ’n roosboom nie vorentoe beweeg nie.  Daar moet ’n rigting en rede wees vir elke dag. Wanneer ’n roosboom nie die sin van sy werk kan insien of ’n plan het vir die toekoms nie, kan ’n vakansiedag vir hom meer uitputtend wees as ’n veertien uur lange werkdag.

Herlaai en die roosboom

Roosbome se lewenslus en energie lê gesetel in die drywer-geaardheid wat hulle het. Wanneer hulle aan die voorpunt van ’n uitdaging is, word hulle tenk weer vol. Roosbome moet ook  maksimum uitset beleef. Daarmee bedoel ek dat roosbome gereeld moet voel dat hulle volspoed beweeg en hulle byna dood werk. ’n Werksopdrag is nie nodig om ’n roosboom te inspireer nie, soms is dit bloot die teenwoordigheid van ’n uitdaging tuis. Kompetisie inspireer ook enige verdroogde roosboom om weer op te staan. Baie roosbome sal net tot hulle reg kom in arenas waar hulle beloon of bekroon kan word. Roosbome wat moeg of depressief raak, kan nie eers oorweeg om fisieke oefening uit hulle roetine weg te laat nie. Die hoë-energie aard van ’n roosboom maak hierdie aspek noodsaaklik. Onfikse roosbome kan as’t ware nie by hulleself byhou nie, want hulle dryfkrag is eenvoudig te hoog vir hulle liggame om by te hou. Konflik is ook ’n bron van nuwe energie vir ’n roosboom.  Roosbome hou daarvan om betrokke te raak by twispunte en selfs kaalvuisgevegte. Baie mense beskuldig roosbome daarvan dat hulle moeilikheid soek. Baiekeer is dit waar!

Vrees en die roosboom

’n Roosboom se vrese is almal gesetel in die vrees vir ’n verlies aan beheer, al lyk die vrese verskillend. Om magteloos te wees is die grootste ramp wat ’n roosboom kan tref. Roosbome se eiewaarde is gesetel in hulle onafhanklikheid, selfvoldaanheid en toereikende vermoëns. Roosbome word nie maklik bang nie, behalwe wanneer hulle die einde van hulle kragte kan sien. Vanweë hulle kompeterende geaardheid vrees roosbome natuurlik ook mislukking. Hulle is slegte verloorders. ’n Roosboom is ook bang vir emosies, veral vir negatiewe of intense emosies. Hulle beleef emosies as ’n wegbeweeg van die rasionele; daarom wil ’n roosboom nie self huil of ander sien huil nie. ’n Roosboom vrees ook situasies wat hulle kan dwing om aan ander onderdanig te wees. Omdat roosbome so gedrewe is, vrees hulle natuurlik ook verveling en stagnasie.

Woede en die roosboom 

’n Roosboom is ’n veeleisende, gedrewe persoon, en kan daarom nie mense verdra wat passief, lui of oënskynlik stadig is nie. ’n Roosboom hou van resultate en doelwitte en wil hê dat almal soortgelyk gedrewe moet wees. Mense wat emosioneel of selfbejammerend raak in ’n taakgerigte situasie, irriteer ook ’n roosboom. Omdat roosbome trots is, word hulle kwaad wanneer iemand hulle probeer help sonder dat hulle daarvoor gevra het. Hulle voel beledig daardeur. Hulle trots maak dat hulle ook kwaad word wanneer hulle uitgevang of oor ’n fout gekonfronteer word. Van kleins af haat roosboompies almal wat “nee” sê, en tot in volwassenheid maak almal wat hulle teëgaan hulle woedend. Roosbome glo waar ’n wil is, is ’n weg; daarom moet dié wat nié wil nie, asseblief weggaan!

Spanning en die roosboom 

Gewoonlik hanteer roosbome spanning besonder goed, want roosbome is taakgerig en meer rasioneel as emosioneel. Roosbome skram nie weg van spanning nie, maar staar dit liewer vierkantig in die gesig. In ’n spanningsvolle situasie is roosbome op ’n manier in hulle element, want die uitdaging daarvan spoor hulle aan. ’n Roosboom werk al harder en langer ure totdat die probleem uit die weg geruim is. Sommige roosbome sukkel egter om interpersoonlike spanning te hanteer wanneer hulle ’n woedeprobleem het (’n algemene swakheid by roosbome!). Roosbome kan hulle spanning op ander uithaal sonder om dit eers agter te kom. ’n Roosboom raak al hoe meer gefokus en al hoe doelgerigter namate die spanning styg, en daarom al hoe minder sensitief vir ander mense se behoeftes. Weens hul kompeterende geaardheid raak hulle soms baie aggressief onder spanning. ’n Roosboom wat nie fisies aktief is nie, is gewoonlik skuldiger aan hierdie soort uitbarstings as ’n roosboom wat gereeld aggressie deur fisieke oefening uitsweet.

 

Sukses en die roosboom

Roosbome moet werk om suksesvol te voel. Werkloosheid of tuis rondsit sonder ’n spesifieke uitdaging laat ’n roosboom waardeloos voel. ’n Roosboom kan ook nie net tevrede wees met enige werk nie. Roosbome meet die sukses in hulle werk eerstens aan prestasie. Sukses is die deurvoering van iets sinvols.