Moegheid en die palmboom
Sierbome word moeg wanneer hulle te veel dinge gelyk doen. Amper alle Sierbome het te veel hooi op hulle vurk omdat hulle nooit “nee” sê nie. Wanneer sierboompies saam met ander in ’n span moet werk, neem hulle gewoonlik te veel op hulleself. Hulle delegeer moeilik wanneer hulle die leiers is. Die rede vir die uitputting is ’n sierboom se hoë (dikwels onrealistiese) standaarde. Alles moet perfek en betyds of selfs vroegtydig gedoen word. Voeg by die geweldige werklading en die onvermoë om te ontspan en dis geen wonder dat sierbome se sisteme dit later eenvoudig nie kan hou nie!
Herlaai en die sierboom
Die meeste sierbome herlaai op hulle eie in stilte en orde waar hulle kan rus en droom of skeppend wees. Baie sierbome sukkel egter om heeltemal te ontspan. Hulle voel skuldig om te lank te sit en niksdoen. Baie sierboommans hou van eenmansporte waar hulle alleen kan wees met hulle gedagtes. Baie sierboomvrouens herlaai deur ’n soort handwerk te beoefen waarin hulle iets moois kan maak. Dit klink onwaarskynlik dat ’n mens kan herlaai deur vervelige sleurwerkies te doen. Sierbome het orde nodig. Hulle verkry die gevoel van innerlike orde terwyl hulle, hulle buitewêreld op puntenerige of kunstige manier orden of versier.
Vrees en die sierboom
Sierbome is baie afhanklik van goeie terugvoering van ander. Hulle sien hulleself in die spieël van ander se komplimente of afkeuring. Daarom is hulle grootste vrees afkeuring. Dit beteken dat hulle baie manipuleerbaar is, dikwels misbruik word en nie kan “nee” sê nie. Sierbome raak geweldig gespanne terwyl hulle wag omdat die moontlikheid van mislukking of negatiewe terugvoering by hulle spook. As sierbome se werk gekritiseer word, neem hulle dit baie persoonlik op. Hulle vrees mislukkings. Sierbome het waarskynlik meer vrese as enige ander temperamenttipe omdat hulle in detail aan alle moontlike probleme kan dink en vasgevang word in die negatiewe. Daar is geen einde aan hulle redes om te vrees nie.
Woede en die sierboom
Sierbome haat veral verrassings en skielike veranderings. Impulsiewe mense werk daarom op sierbome se senuwees. Sierbome hou daarvan om voorbereid te wees en lank voor die tyd kennis te dra van veranderings of gebeure wat hulle gaan raak. Mense wat dit nie respekteer nie en hulle “rondgooi”, maak daarom die sierbome die kwaadste. Sierbome staan soggens op met die hele dagprogram in hulle koppe. ’n Sierboom haat onvolledige instruksies, halwe opdragte, roeteaanwysings sonder straatname, resepte sonder sistematiese metodes en trouens enige ding wat sonder ’n handleiding kom. Dit is vanselfsprekend dat mense hulle dus sal kwaad maak wanneer hulle swak of onvolledig kommunikeer. ’n Sierboom het honderd en een vrae wanneer iets verander. Mense wat die orde in ’n sierboom se omgewing versteur, sal verbaas wees hoe kwaai daardie sierboom kan raak! Sierbome is gewoonlik ernstig en kan ligsinnigheid nie verwerk nie.
Spanning en die sierboom
Enige onvoltooide taak hang soos ’n swaard oor hulle koppe en maak dit onmoontlik om te ontspan. Wanneer sierbome lysies maak, skedules uitwerk, notas in ’n dagboek maak, alarms op hulle selfone stel en afsprake in die rekenaar intik om al hierdie klein takies te organiseer, en te verseker dat niks vergeet word nie, kan baie van die spanning verdwyn. As sierbome onseker is wat om volgende te doen, raak hulle ook baie gespanne. Hulle is afhanklik van die leiding van ’n gedetailleerde sisteem, ’n skedule of ’n goedgedefinieerde taak. Sierbome, veral die dames, ontlaai dikwels deur emosioneel te raak. Sierboommans internaliseer gewoonlik hulle spanning.
Sukses en die sierboom
Sierbome beskou die lewe as ’n nimmereindigende selfverbeteringskursus. Daarom ervaar hulle nie maklik die sukses wat hulle wel behaal het nie. Sierbome meet sukses aan punte of standaarde. Beskrywende erkenning vir hulle werk en voorkoms is ook vir sierbome belangrik. Sierbome sukkel om sin in ’n proses te sien. Goeie vordering is nie sukses nie; voltooiing is sukses. Produktiwiteit een van hulle maatstawwe van sukses.