Die jong dennepalmpie
Dennepalmpies is gewoonlik gelukkige, maklike babas – vriendelik en aanpasbaar. Hierdie kombinasie van boompies is die een met die minste taakgerigtheid en selfdissipline; daarom neem hulle baie lank om betroubaar te word. Hulle lyk betroubaar omdat hulle gehoorsaam is, maar sê die ouers nie aanhoudend vir hulle wat hulle moet doen nie, sal hulle baie min takies spontaan uitvoer! Dennepalmpies het die potensiaal om die vergeetagtigste, verstrooidste en agterlosigste van almal te wees – absolute dromers op ’n ander planeet. Dennepalmpies het die minste innerlike dryfkrag, maar is daarom ook dikwels die inskiklikste. Hulle gee baie om hoe ander oor hulle voel; daarom stel hulle graag hulle ouers tevrede. Hulle kan baie maklik wees om groot te maak, buiten die uitdaging om verantwoordelikheid by hulle te kweek.
Dennepalmpies verset hulle teen verantwoordelikhede en werkies soos niemand anders nie. Hulle wil altyd rus of speel – een van die twee. Werk is nie voorop in hulle gedagtes nie! Dennepalmpies kan ’n baie swak aandagspan hê, en word baiekeer as “afleibaar” geëtiketteer. Hulle gedagtes dwaal maklik al is hulle nie so geneig om “hiperaktief” te wees soos die roospalmpies nie. Bombastiese, wrede dissipline vermorsel hierdie soort boompie omdat hulle dit so intens as afkeuring en verwerping sal beleef, en konflik geweldig moeilik hanteer. Hulle grootste behoeftes is vrede en vrolikheid. In ’n huis vol verbale of fisieke geweld, sal hulle dus lelik verniel. Dennepalmpies hanteer gewoonlik die sosiale deel van skool baie goed, maar die akademie kry swaar. Hulle raak eenvoudig nie ernstig genoeg oor enige iets nie, en kan nie die volgehoue insette lewer wat nodig is vir akademiese sukses nie. Hulle is klassieke onderpresteerders. Dennepalmpies is swak tydbeplanners; daarom is hulle werk gewoonlik nie betyds klaar nie. Hulle dink nie aan die detail van hulle werk nie, en laat dan heeltemal te min tyd om alles klaar te kry. Hulle is ook uitstellers. Daar is min dennepalmpies met leierskap aspirasies, maar hulle word gewoonlik eerste deur die leiertjies vir hulle span gekies, want hulle is uitstekende samewerkers. Hulle geniet dit wanneer iemand anders leiding en verantwoordelikheid aanvaar, en net van hulle verwag om te volg. Dennepalmpies is baie mensliewend en gemaklik met mense van enige ouderdom. Hulle is ook gewoonlik diereliefhebbers.
Die volgroeide dennepalm
Dennepalms is ’n kombinasie van die twee mensgerigte temperamente, en is daarom besonder ingestel op almal om hulle. Hulle het baie genade, deernis, begrip en belangstelling in ander en maak wonderlike, lojale vriende. Hulle gaan die maklikste deur die lewe omdat hulle niks te ernstig opneem nie. Hulle kan gewoonlik nie verstaan waarom ander mense gespanne, opgewerk en oorwerk raak nie. Dit gebeur nie met hulle nie. Hierdie kombinasie is die swakste met beplanning, tydsbestuur en begrotings. Hulle vermy administrasie en papierwerk waar hulle kan en die meeste van hulle projekte loop op krisisbestuur uit.
Omdat hulle taakgerigtheid so swak kan wees, is hulle nie die betroubaarste kombinasie nie, maar hulle opregte berou maak daarvoor op. Hulle het gewoonlik nie ’n gemene of moedswillige haar op hul koppe nie. Dennepalms sit nie graag skouer aan die wiel net ter wille van werk nie. Daarom kan hulle ongelukkig in hulle beroepe misluk as dit volgehoue energieke insette vereis, tensy hulle werk hulle passie is. Dennepalms se leefwêreld is gewoonlik die deurmekaarste. Hulle het byna geen vermoë om te organiseer en sistematies te wees nie. Dennepalms leef nie in die toekoms of die verlede nie – hulle is “nou hier”, en is daarom in staat om regtig hulleself aan ander te gee. Hulle warmte en vermoë om begrypend te luister maak van hulle baie goeie beraders, pastore, bemiddelaars en dokters. Dennepalms
het die swakste wilskrag van al die kombinasies. Hulle is daarom meer geneig as enige van die ander om oorgewig, lui, gemaksugtig of wellustig te wees. Dennepalms het baie pret en rus nodig. Teen die tyd dat hulle van die werk af kom, is daar gewoonlik van hulle net ’n honger TV-slaaf oor of hulle wil uitgaan, solank daar net geen eise of werk op hulle wag nie!
